Eldo gaan NASA toe
- By Annalien Venter
- •
- 08 Feb, 2018
- •
Is Llewellyn dalk die volgende Mark Shuttleworth?

Llewellyn Coetzer gaan na ‘n leierskap akademie by NASA se vuurpyl museum te Huntsville, Alabama in die VSA. Hierdie akademie word deur Honeywell geborg en vind plaas vanaf 24 Februarie 2018 tot 2 Maart 2018.
Gedurende hierdie kursus gaan Llewellyn blootgestel word aan verskeie vlugnabootsers, fisiese aktiwiteite wat hul leer om as ‘n span saam te werk en ook nabootsing van ruimte wandel ervaar. Op hierdie manier word student in ‘n veilige omgewing onder druk geplaas en geleer hoe om as ‘n leier op te tree.
Die Honeywell Leadership Challenge Academy is ‘n verrykingsprogram wat fokus op ontwikkeling van studente op die volgende vlakke: die grondslag van leierskap te verstaan, effektiewe kommunikasie, en spanwerk terwyl hulle deelneem aan wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese- en wiskundewerkswinkels. Leerlinge word te alle tye vergesel deur lede van die VSA Ruimte en Vuurpyl Sentrum.
Llewellyn sal dan ook saam met sy spanmaats van Suid-Afrika ons land verteenwoordig, en Hoërskool Eldoraigne se naam ‘hoog’ hou. Ons wapen verteenwoordig nie verniet die Suiderkruis nie. Llewellyn se toewyding en amibisie is vir ons noemenswaardig en ons is trots hoe hy sy drome en passie aktief na streef. Wie weet dalk is hy ons volgende Mark Shuttleworth.