AKADEMIESE STRATEGIE


Akademie vorm die hoeksteen van enige skool. Hoërskool Eldoraigne se akademiese strategie is op drie bene geskoei:

  • Vakkundige onderrig wat leerders toekomsgerig toerus;
  • Akademiese ondersteuning vir elke leerder ten einde te verseker dat elkeen sy/haar akademiese potenisaal bereik;
  • Akademiese leiding sodat elke leerder hom-/haarself kan toerus vir ʼn toekoms waarin hy/sy hul roeping kan vervul.


Ons verwesenlik ons strategie deur:

  • Vakkenners aan te stel en personeel deurlopend te ontwikkel om voorlopers op hul vakgebied te wees. Verder poog ons om tegnologie in ons klasse te vernuwe en te verseker dat personeel op hoogte bly van die nuutste ontwikkelinge in die onderwys.
  • Intervensieprogramme en ontwikkelingsprogramme daar te stel om leerders wat akademiese uitdagings ervaar, leerders wat gemiddeld presteer en sterk presterende leerders verder te ondersteun en te slyp. Daar is ʼn vaste intervensieprogram van graad 8-12 per kwartaal asook meesterklasse, lenteskool, winterskool, werkswinkels en ʼn studiemetodesprogram wat aangebied word.
  • Van graad 8-12 leerders te lei om eerstens die regte vakkeuses te kan maak en tweedens die regte beroepskeuse te kan maak. In graad 9 ondergaan ons leerders ʼn doelgerigte jaarprogram om hulle te help om die regte vakkeuses te maak. Ons werk ook saam met ʼn diensverskaffer wat as die beste psigometriese oplossing wêreldwyd aangewys is om aanbevelings aan ons leerders te maak oor nommerpas beroepskeuses. Ons Vervul jou Roeping Ekspo gee aan ons leerders verdere blootstelling en interaksie met moontlike werkgewers en tersiêre instansies. Verder daar word vir graad 11- en 12-leerders sprekers gereël om hulle beter in te lig oor die pad wat voorlê. Ons poog ook om ons ouers te ondersteun en te bemagtig met inligting deur inligtingsaande en webinare van die onderskeie diensverskaffers waarvan ons gebruik maak.



Bogemelde strategie lewer volgehoue prestasie wat Hoërskool Eldoraigne kenmerk as dié akademiese skool in Centurion. Jaar-na-jaar presteer ons graad 12-leerders uitstekend in die nasionale seniorsertifikaat (NSS) eksamen en daarom kan ons met trots sê dat ons een van die top 10 Afrikaanse skole in Suid-Afrika is. Ek nooi u uit om saam met  ons te kom leer, dink en droom oor wat moontlik is en te sien hoe ons as span u kind lei op sy/haar roepingspad.

Share by: