WELKOM BY HOËRSKOOL ELDORAIGNE
Hoërskool Eldoraigne is ‘n gelukkige skool , met gelukkige kinders, onderwysers en ouergemeenskap.
Ons missie is om ons jeug te koester en met liefde, agting en empatie op te voed tot volwassenheid. Ons doel is om hulle gawes en talente te ontwikkel sodat hulle toekomsstigters, skeppings- beheerders, volksbouers en probleemoplossers kan wees. Ons strewe daarna om ‘n gesonde balans te handhaaf tussen akademie, sport en kultuur .
Ons wil saam met ons ouers in vennootskap tree om jongmense van integriteit met ‘n positiewe toekomsverwagting te kweek. Daarom nooi ons julle om deel te word van Hoërskool Eldoraigne om sodoende “Jou roeping te vervul!” .
Ons het jongmense met visie nodig, wat nog groot drome kan droom en uitdagings met entoesiasme kan aanpak.
Boodskap uit die Hoof se kantoor
Beste Eldoraigne-familie
Dit is vir my ’n groot eer om as Hoof van Hoërskool Eldoraigne te dien. Ek glo ek kan my 36 jaar ervaring in die onderwys hier gebruik om Eldoraigne se leerders tot hulle volle potensiaal te ontwikkel. My oortuiging is eenvoudig: elke kind het potensiaal — en ons help elke leerder om dit voluit te leef. Vervul jou Roeping is nie net ’n leuse nie; dit is ’n rigtingwyser vir hoe ons leer, leef en lei.
Vanjaar vier ons ’n besondere mylpaal: Eldoraigne is 52 jaar oud. Vir meer as ’n halfeeu het hierdie skool generasies jong mense gevorm — met waardes, dissipline en geleenthede wat lewensrigtings bepaal. Wanneer ’n mens terugkyk, sien jy die spore van toewyding: onderwysers wat verder stap, ouers wat betrokke bly, en leerders wat met trots hul skool dra.
Ons is trots op ons alumni wat regoor die wêreld presteer — in universiteite, besigheid, wetenskap, onderwys, sport, kunste en gemeenskapsleierskap. Hul sukses getuig daarvan dat Eldoraigne nie net ’n plek van leer is nie, maar ’n vertrekpunt vir betekenisvolle lewens. Hulle herinner ons dat die werk wat ons vandag doen, ’n rimpeleffek regoor die wêreld het.
Ons leef ons jaartema met oortuiging:
Eg. Energiek. Eersteklas.
Eg — omdat integriteit en eerlikheid deel is van wie en wat ons is.
Energiek — omdat ons met doelgerigtheid en ywer werk.
Eersteklas — omdat ons nie tevrede is met gemiddeld nie.
Daarom bly akademie ons eerste prioriteit en terselfdertyd weet ons dat elke kind belangrik is — elke stem, elke talent, elke storie.
Ons kernpad vorentoe: van “good” na “great” (gebaseer op die boek van Jim Collins)
Die krag van Eldoraigne lê in die triade: ouers, leerders en onderwysers. Wanneer ons saam dink, saam beplan en saam optree, word ons sterker en beter. Onderwys is ’n roeping — en soos ’n groot vliegtuig wat in die lug gehou moet word, verg dit presiese stelsels, duidelike waardes en toegewyde spanwerk. Die waardes is ons enjin; die vlerke is ons samewerking; die instrumente is die strukture en dissipline wat ons op koers hou.
’n Spesiale woord aan ons matrieks:
Ons wens julle besondere sterkte toe vir die jaar wat voorlê. Hierdie fase vra volgehoue werk, balans en karakter. Onthou:
Vervul jou Roeping deur elke dag jou beste te gee. Maak gebruik van die ondersteuning om jou — onderwysers en ouers. Ons glo in julle.
Soos ons ons 52 ste jaar instap, bou ons verder op ’n ryk erfenis — met die oog gefokus op die toekoms. Dankie dat u saam met ons hierdie pad stap. Kom ons bou — eg, energiek en eersteklas — sodat elke leerder kan floreer en Eldoraigne werklik van “good” na “great” beweeg.
Retief Smith
Hoof

Ons oorhoofse doelwitte
vir die jaar:
- Puik akademiese uitslae: fokus, intervensies, mentorskap en konsekwente standaarde.
- Verbetering in sport: breër deelname, kwaliteit afrigting en sportmanskap wat bewondering afdwing.
- Puik kultuuraanbiedings: aanbiedings waar kreatiwiteit en trots sigbaar is.





