
HOËRSKOOL ELDORAIGNE VIER ’N KLAS WAT VOLHARD HET: EERSTEKLAS-MATRIEKUITSLAE VIR 2025
Hoërskool Eldoraigne het rede om met trots terug te kyk na die matriekuitslae van 2025 – ’n jaar waarin die graad 12’s se volharding en akademiese ingesteldheid duidelik vrugte afgewerp het. Vir die tweede agtereenvolgende jaar is die skool deel van ’n klein groep skole landswyd wat ’n 100% slaagsyfer behaal het!
Die aanloop tot die NSS-eksamen was besonder positief, veral met die bekendmaking van Hoërskool Eldoraigne se Alpha-eindeksamen uitslae, wat reeds ’n sterk aanduiding van die klas se akademiese gereedheid gebied het. ’n Hoogtepunt was Dean Els, wat nasionaal eerste in Alpha Wiskunde geëindig het – ’n uitsonderlike prestasie. Twee ander leerders is ook onder die Top 20 landswyd in Alpha Wiskunde, met ’n vakgemiddeld vir die hele groep van 86.9%.
Van die 244 matrieks kwalifiseer 99,6% vir tersiêre opleiding, met 91,8% wat toegang tot graadstudies verkry het en 7,8% tot diplomastudies. Hierdie uitsonderlike prestasie onderstreep nie net akademiese sukses nie, maar ook die gereedheid van leerders om die volgende fase van hul studies met selfvertroue aan te pak.
Die groep het saam 404 onderskeidings (Alpha ingesluit) behaal, met ’n gemiddeld van 1,7 onderskeidings per kandidaat. Verder het 131 leerders ten minste een onderskeiding verwerf, met 17 uit die 21 vakke wat ’n 100% slaagsyfer toon. Tien vakke het ’n gemiddeld van bo 70% behaal; ’n duidelike aanduiding van konsekwente akademiese gehalte oor ’n wye spektrum vakke.
Van die merkwaardigste hoogtepunte sluit in dat die Top 10-leerders ’n gemiddeld van 90,8% het en die Dux-leerling van 2025, Natalie van der Bank, het ’n spoggemiddeld van 93,14% behaal. Drie van ons leerders het `n uitstekende 9 onderskeidings verwerf. 87% van die groep het in al hul vakke `n punt van bo 50% behaal.
Wiskunde het vir die tweede jaar agtereenvolgens ’n 100% slaagsyfer gelewer, met 27 onderskeidings en uitstekende individuele prestasies bo 90%, Maretha Gonin het 98% behaal.
In Dramatiese Kunste het elke leerder ’n onderskeiding behaal, met ’n indrukwekkende vakgemiddeld van 90,8%.
Volgens die skool is hierdie uitslae meer as net syfers. Die klas van 2025 het hul hoërskoolloopbaan in uitdagende omstandighede begin en moes aanpas, aanhou en volhard. Hoërskool Eldoraigne wens elke matrikulant hartlik geluk en is dankbaar vir elke ouer en personeellid wat deel van hierdie besonderse akademiese reis was.










