Leerlingondersteuningsdienste: 'n Lewenslyn vir Vandag se Jongmense


In vandag se samelewing het ondersteuning vir ons kinders en jongmense nog nooit so krities en noodsaaklik gevoel soos nou nie. Die dinamiese en voortdurend veranderende wêreld waarin ons leef, stel daagliks nuwe uitdagings en eise aan ons jeug. Van die druk om akademies uit te blink tot die voordurende stroom van nuwe tendense en invloede wat deur sosiale media versprei word, is dit te verstane dat jongmense oorweldig en verward kan voel.


Ons glo ons leerderondersteuningsentrum speel 'n belangrike rol in die verskaffing van 'n veilige hawe en hulpbronne vir leerlinge wat stoei met hierdie moderne druk. Die sentrum bestaan uit twee Opvoedkundige Sielkundiges en 'n Maatskaplike werker, saam met die akkommodasie-fasiliteerder wat Maandae tot Vrydae beskikbaar is om ons leerlinge gratis te ondersteun.

Ons dienste sluit in studieleiding en -ondersteuning; beroepsvoorligting en emosionele ondersteuning in die vorm van terapie en/of berading. Dit is ook die sentrum vir akkommodasie-aansoeke.


Die belangrikheid van hierdie dienste kan nie oorbeklemtoon word nie. In 'n tyd waar geestesgesondheid onder jongmense 'n groeiende bekommernis is, bied leerlingondersteuningsdienste 'n proaktiewe en positiewe benadering om kwessies vroegtydig aan te spreek. Hier help ons nie net met die hantering van onmiddellike probleme nie, maar ook om jongmense te bemagtig met die vaardighede en selfvertroue wat hulle nodig het om toekomstige uitdagings te hanteer.


Ons glo die ondersteuningsentrum is vir baie van ons leerlinge 'n veilige hawe waar almal welkom voel. Hier is altyd tyd vir ‘n geselsie en in moeilike tye self ‘n koppie tee wat al menige dae gered het. 'n Gewilde trekpleister is die lekkergoedbakkie wat soms bietjie troos in stresvolle tye bied. Dit is ‘n voorreg om ook ouers wat aanklop vir raad en ondersteuning by te staan wanneer nodig, alles deel om die gesinseenheid as geheel te versterk. Ons voel geëerd en dankbaar om 'n verskil te kan maak in die lewens van ons skoolgemeenskap.