
GRAAD 8 2026 - INLIGTING

GRAAD 8 OUERGROEP
Sluit gerus by die WhatsApp-groep aan. Saaklike inligting sal vir die duur van u kind se hoërskoolloopbaan hier gedeel word: https://chat.whatsapp.com/DydqfgeN3Ar7dRIHTn3iu4?mode=ac_t
BOODSKAP VAN DIE GRAADHOOFDE
Liewe Graad 8’s van 2026
Ek wil julle graag welkom heet, waar jou hoërskoolpadjie begin by Hoërskool Eldoraigne.
Hierdie is ’n nuwe avontuur – een waarvoor jy dalk opgewonde, senuweeagtig, of selfs ’n bietjie bang is… en dis heeltemal normaal.
Hoërskool gaan oor groei. Julle gaan leer, val, opstaan, ontdek wie julle is – en saam met dit, ongelooflike herinneringe maak. Ek wil hê julle moet van die begin af weet: jy hoef nie perfek te wees nie - maar ons wil hê jy moet altyd jou beste gee. Gee jou beste op akademiese vlak, raak betrokke by al die aktwiteite, hanteer ander, en mekaar, met respek – en geniet elke oomblik.
Ons is hier om julle te ondersteun, te help en julle aan te moedig wanneer dit nodig is. Jy is nie alleen nie – ons sien so uit om elkeen te leer ken en om saam te droom oor die jong volwassene wat jy besig is om te word.
Sien julle binnekort – en geniet die laaste stukkie van graad 7!
“Don’t count the days, make the days count” - Muhammad Ali
Juf Elme Ribeiro - Graadhoof
_________________________________________________________________________________________________________
Liewe Graad 8-leerder
Welkom by Hoërskool Eldoraigne! Ons is ongelooflik opgewonde om jou as deel van ons skoolfamilie te hê, en dit is vir ons as jou graadhoofde 'n voorreg om saam met jou op hierdie nuwe reis te stap.
Die oorgang na hoërskool is ’n groot en belangrike stap, een wat gevul is met nuwe uitdagings, ontdekkings en natuurlik, wonderlike geleenthede. Jy gaan nie net nuwe vakke en onderwysers leer ken nie, maar ook nuwe vriende maak en meer oor jouself ontdek.
Onthou die volgende:
Jy hoef nie alles op jou eie te doen nie. Ons is hier om jou te ondersteun, te lei en aan te moedig elke tree van die pad. Jou stem is belangrik, jou potensiaal is groot, en jou toekoms begin nou.
Kom vervul jou roeping en word die “Eldo Ster” wat jy eendag gaan wil wees!
Mag 2026 vir jou 'n jaar wees van groei, selfvertroue en sukses.
Ons glo in jou!
Met trots en opgewondenheid,
Mnr Clint van Niekerk - Graadhoof

BOODSKAP VAN DIE HOOF
Beste Graad 7-leerder en ouer
Dit is met groot opgewondenheid dat ons by Hoërskool Eldoraigne uitsien daarna om jou in 2026 as deel van ons skoolfamilie te verwelkom!
Die oorgang van laerskool na hoërskool is ‘n groot en belangrike stap — nie net in ‘n jong mens se akademiese reis nie, maar ook in hul persoonlike ontwikkeling. By Eldoraigne is dit vir ons ‘n voorreg om elke kind se potensiaal te help ontgin en te sien hoe hulle as sterre begin skyn – in die klaskamer, op die sportveld, op die verhoog en in die gemeenskap.
Ons is ‘n skool waar dissipline, tradisie, uitnemendheid en hart die fondasie vorm van alles wat ons aanpak. Maar nog belangriker – ons werk met ons eie kinders. Hier is elke leerder belangrik, en ons streef daarna dat elkeen nie net akademies presteer nie, maar ook ‘n gebalanseerde, verantwoordelike en trotse jong volwassene word.
Ons span is reeds besig om voor te berei om die 2026 Graad 8-groep met ope arms te verwelkom. Jy sal nie net ‘n nuwe skool betree nie – jy sal deel word van ‘n trotse tradisie en ‘n gemeenskap wat in jou glo.
Ons nooi jou uit om die eerste tree na 'n blink toekoms saam met ons te gee. Eldoraigne wag vir jou.
Met waardering en opgewondenheid,
Mnr Retief Smith
Skoolhoof – Hoërskool Eldoraigne
