HANDEL & WANDEL


Reeds vanaf sy eerste bestaansjaar (1974) lewer die Hoërskool Eldoraigne jaarliks jong volwassenes wat hul plek in die samelewing volstaan. Nie net is hierdie jongmense akademies toegerus nie, maar ook emosioneel en sosiaal aangepas om die uitdagings van die buitewêreld met durf en waagmoed aan te pak.


Hierdie slypingsproses is egter ook aangepas om met die nuwe tydgees en onderwyswette tred te hou. Die Handel-en-wandel-stelsel is dus ‘n voortsetting van vorige dissiplinêre stelsels wat die goeie orde van die skool en die welsyn van ons leerders ten doel het.


Die hoeveelheid kredietpunte wat leerlinge verwerf, is ‘n duidelike bewys van die oorheersende positiwiteit van ons leerlinge, iets waarvoor Hoërskool Eldoraigne nog altyd bekend was. Die skool en veral die opvoeders, bly verbind tot die opvoeding van ons leerlinge in totaliteit. Die oogmerk van die gedragskode is dus nie primêr op straf gerig nie, maar wel tugtiging in liefde; die nadertrek en onderskraging van hulle, wat deur optrede of gedrag, van die voorgeskrewe norm afwyk.


Die gemeenskap en onderwyspersoneel verwag dat ‘n leerling van Hoërskool Eldoraigne netjies, goed gemanierd, beleefd, stiptelik, getrou en eerlik sal wees. Die Hoërskool Eldoraigne sal dus sy visie van uitnemende en toekomsgerigte onderwys nakom en steeds met trots leerlinge oplei om hul roeping te vervul.


Aangesien die Beheerliggaam wetlik verplig is om ‘n gedragskode vir die Hoërskool Eldoraigne op te stel en aangesien die Beheerliggaam begerig is om die regte van alle leerlinge, ouers en opvoeders binne skoolverband te beskerm, is hierdie gedragskode deur die Beheerliggaam, na raadpleging met alle belanghebbende rolspelers aanvaar. Die gedragskode is onderhewig aan die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet Nr 108 van 1996), die SA Skolewet (Wet Nr 84 van 1996), die Wet op Skoolonderwys (Wet Nr 6 van 1995) vir die Provinsie Gauteng en Regulasies daarkragtens uitgevaardig.


Hierdie reëls en organisatoriese aangeleenthede beoog die goeie orde en ‘n gees van welwillendheid in ons skool. Selfdissipline is ‘n teken van ‘n welopgevoede persoon. Mag dit ‘n saak van eer vir elke leerling wees om sy of haar deel hiertoe by te dra.


Vir navrae kontak

Liezel Barnard

barnardl@hseldo.co.za

Share by: