Eldoraigne Redenaars en Orators... ons laat ons woorde tel!
- By Annalien Venter
- •
- 13 Nov, 2017
- •
Eldo's maak hul stemme dik.
Hoërskool Eldoraigne se Redenaars en Orators
het in 2017 hul
stem dik gemaak op alle vlakke.
Tydens die ATKV
se eerste rondte het agtien leerders puik presteer en veertien leerders het
deurgedring na die semi-finaal. Al ses die voorbereide sprekers het die paal gehaal
en onder die top tien geeïndig. Die leerders was selfversekerd en baie goed
voorbereid en selfs die onvoorbereide deelnemers het almal op die voorpunte van
hulle stoele laat sit. Christiaan Roux en Jean-Minique White het Eldoriagne op
19 Augustus 2017 in Goudini in die Kaap verteenwoordig by die finale rondte van
die kompetisie. Hierdie is ‘n ongelooflike prestasie en ons glo Christiaan en
Jean-Minique gaan nog groot skares met hulle woord betower.
Die Van Huysteens Redenaarsfees was inderdaad ‘n fees vir die oor! Eldoraigne se redenaars was een van die suksesvolste skole in die kompetisie. Ons wil veral melding maak van die matriekleerders. Hierdie span het vir vyf jaar in ‘n ry, die Tweetalige Spankompetisie gewen. ‘n Totaal van vier spanne en vier leerlinge spog elkeen met ‘n gesogte Van Huyssteens hamertjie.
Oppie Tong Af is vir die dapperes en die kreatiewes wat bereid is om te waag. Die hooffokus is om sprekers te kweek wat die planeet en sy inwoners in die bek kan ruk en sodoende die land en die wêreld kan verander deur te praat waaroor elke spreker sterk voel. Dit is dan presies wat Eldoraigne se Redenaars en Orators vanjaar by die kompetisie gedoen het. Ons het 40 leerders vir die kompetisie ingeskryf. Hulle het individueel of in spanne deelgeneem en tydens die eerste rondte 9 A++, 12 A+, 4A’s, 3 B+ en 1B verower.
By die Nasionaal-finaal het Eldoraigne wel deeglik hul stempel afgedruk. Ons palm tien eerste plekke, twee 2de en twee 3de in die Hoërskole afdeling in.
Laaste maar nie die minste nie het Eldo’s ook aan die Radikale Redenaarsfees deelgeneem en 24 individue en twee spanne het aan die kompetisie deelgeneem. Die uitslae was goed en vyf individue en twee spanne het na die Gauteng-finaal deurgedring! Miné Smit, graad 11, en die graad 8-span, Christiaan Roux, Liné Crafford, Leandré van Dijk en Michelle Bester het na die Nasionale-finaal deurgedring.
Ons is trots op elke leerder wat ook in dié leerervaring presteer en gegroei het. Ons kan voorwaar sê dat Hoërskool Eldoraigne ‘n top jaar gehad het as dit kom by redeneer en het verseker hul woorde getel en laat tel, waar dit saak maak.